Les 3: Stem opwarming
Les 3: Blitsige tonge!
Konsepte: Leer hoe om veilig jou stem op te warm
Inleiding:
Vandag gaan ons, ons stemme opwarm deur ‘n paar taai tongknopers op te sê. Tongknopers is lawwe rympies wat moeilik is om reg op te sê.
Oefening 1:
Vandag gaan ons langs die see stap, maar terwyl ons stap, sien ons ‘n see monster! Die eerste tongknoper gaan soos volg:
Sewe seemonsters swem elke Sondag in die see
Laat die kinders die tongknoper stadig herhaal totdat hulle dit sonder enige foute kan sê.
Oefening 2:
Die monster is bang vir slange, so om die monster weg te jaag, moet ons soos slange maak. Laat die kinders die eerste tongknoper weer sê, maar laat hulle elke “s” lank uit rek.
Oefening 3:
Noudat die monster weg is, stap ons na ‘n winkel om nuwe knope vir ons baadjie te koop. Die tweede tongknoper is:
Kallie kan koper knope koop
Laat die kinders die tongknoper stadig herhaal totdat hulle dit sonder enige foute kan sê.
Oefening 4:
Na ons stappie, begin die son sak en ons besluit om te gaan slaap. Die laaste tongknoper is:
Drie dronk dansende duiwe dreun deur donker drome
Laat die kinders die tongknoper stadig herhaal totdat hulle dit sonder enige foute kan sê.
Oefening 5:
Die volgende dag word almal wakker en sien dat dit buite reën.
Die kinders gaan nou ‘n Zulu roep-en-antwoord liedjie sing.
Zulu roep en antwoord liedjie:
Onderwyser: Ngizwa imvula
Kinders: Ngizwa imvula
Onderwyser: Wena awuzwa
Kinders: Wena awuzwa
Onderwyser: Beka sesi manzi
Kinders: Beka sesi manzi